Stenka Razin

Stepan Razin
’n Kontemporêre Engelse graveerwerk van Stepan Razin.
Gebore
Stepan Timofejewitsj Razin

Omstreeks 1630
Sterf16 Junie 1671 (op 40-41)
Moskou, Tsaredom Rusland
DoodsoorsaakTeregstelling (in stukke gekap)
Ander nameStenka Razin
BeroepKosak, seerower, rebelleleier
EraTsaredom Rusland
Bekend virOpstand gelei teen tsaar

Stepan Timofejewitsj Razin (Russies: Степа́н Тимофе́евич Ра́зин; 1630 - 16 Junie [O.S. 6 Junie] 1671), bekend as Stenka Razin (Стенька), was ’n Kosakleier wat in 1670-1671 ’n groot opstand teen die adel en die tsaristiese burokrasie in Suid-Rusland gelei het.[1]

In 1667 was Razin die leier van ’n seerowersgemeenskap wat heffings geëis het van bote op die Wolgarivier. In dié tyd het lang oorloë tussen Rusland en ander lande ’n swaar las op die bevolking geplaas en tsaar Michail en sy opvolger, tsaar Aleksei, het soos outokrate regeer ná 15 jaar van groot oproerigheid in Rusland. Baie Russe, asook nie-Russe wat onderdruk is, het suidwaarts getrek en by Razin se Kosakke aangesluit. Dié het bote vernietig, forte aan die Wolga verower en die landskap verwoes. Van sy ekspedisies was tot in Dagestan en Persië.

Intussen is ’n kloof tussen die kleinboere en adel in Rusland vererger deur die behandeling en stand van kleinboere. Die Kosakke het die tsaar gesteun, want hy het hulle betaal om Rusland te verdedig. Hulle wou egter ’n tsaar hê wat aandag skenk aan die behoeftes van die armes ook, en nie nie net die rykes nie. Razin het in werklikheid teen die ryk bojare in opstand gekom. Sy beweging het al hoe meer polities geraak en hy het die reputasie gekry dat hy onoorwinbaar is.

In 1667 het Razin op ’n ekspedisie na die Kaspiese See vertrek om ’n basis te vestig van waar hy dorpe kon plunder. In 1669 het hy ’n basis aan die Kaspiese See gebou. Hy het die volgende jaar openlik teen die regering in opstand gekom. In Astrachan, ’n strategies belangrike plek aan die Wolga en Kaspiese See, het hy toegang tot die stad gekry danksy ’n rebellie deur die gardesoldate en almal vermoor wat hom teengestaan het. Hy het die stad geplunder en in ’n Kosakrepubliek omskep. Hier is hy as "monarg" aangewys; hy wou ’n Kosakdom stig met gelyke regte vir almal.

Eindelik, nadat sy poging om Simbirsk (nou Oeljanofsk) te verower misluk het, het die rebellie begin stoom verloor en sy eie mense het teen hom gedraai. In 1671 is Razin deur Kosakke aan die tsaar uitgelewer en op 6 Junie 1671 is hy op ’n wrede manier tereggestel. Uiteindelik het sy plan geboemerang: Die regering het groter beheer oor die Kosakke gekry en die samewerking tussen die tsaar en adelstand het toegeneem omdat albei bang was vir nog opstande.

  1. Malov 2006.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy